4 October 2026
Help net één persoon om self te besluit!
Die veldtog het nie ’n groot politieke masjien en begroting nie. En eintlik wil ek dit ook nie hê nie.
Die krag van hierdie gemeenskapsveldtog lê by gewone mense wat glo dat plaaslike verteenwoordiging anders gedoen kan word — mense wat bereid is om met mekaar te praat, vrae te vra en self te besluit.
As jy glo in wat ons probeer bereik, vra ek dus nie dat jy mense moet oortuig om vir my te stem nie. Ek vra iets baie eenvoudiger: help hulle om die geleentheid te kry om self te kan besluit.
Deel gerus ’n artikel of ‘n boodskap op jou WhatsApp-status of persoonlike sosiale media-blad. Stuur iets direk aan ’n vriend wat dalk sou belangstel. Vertel iemand waarom jy hierdie veldtog ondersteun. Maar asseblief, moenie gemeenskapsgroepe in veldtogplatforms verander nie. Daardie ruimtes behoort aan almal.
Nog belangriker: stel iemand voor aan my, of andersom.
Jy ken mense wat ek nie ken nie. Jou buurman. ’n Vriend. ’n Boer of plaaswerker. ’n Kollegа. ’n Jong persoom wat nog wonder of dit enigsins die moeite werd is om te stem.
Nooi hulle na een van my Ontmoet & Groet sessies.
En dit is nie net vir mense wat reeds hierdie veldtog ondersteun nie. Bring kiesers wat nog onseker is. Bring die persoon wat ’n ander kandidaat of party ondersteun. Kom ontmoet my. Vra moeilike vrae. Verskil met my as jy wil. Luister na wat ek sê — en besluit dan self.
Jou stem behoort immers aan jou. Niemand anders nie.
Om te help gaan nie oor geld nie, en ek vra vir vir finansiele bydraes nie. Jou bydrae kan so eenvoudig wees soos ’n gesprek, om iemand voor te stel, ’n gedeelde boodskap of ’n uitnodiging.
Want as elke persoon wat in hierdie gemeenskapsveldtog glo, net een ander persoon help om ’n ingeligte besluit te neem, bereik ons iets baie groter as gewone verkiesingsbemarking.
Ons bou weer gesprek tussen mense.
Bly hier. Dien hier. Veg hier. En help iemand anders om self te besluit.
Peter Muller
Onafhanklike Kandidaat vir Wyksraadslid, Wyk 18, Dihlabeng
Leef hier. Dien hier. Veg hier.
← Back to Blog