7 September 2026
Na die verkiesing moet ons nog saam werk
Na die verkiesing moet ons steeds saamleef
Peter J Muller - Onafhanklike Wyk 18 Raadslidkandidaat
Ons nader ’n verkiesing waarin daar meer politieke keuses as ooit tevore is. Dit is goed vir demokrasie. Dit gee elke kieser die geleentheid om werklik te dink, te vergelyk en self te besluit.
Maar daar is iets wat my bekommer.
Ons sien al hoe meer politieke aanvalle, beskuldigings en pogings om ander kandidate af te breek. Party politici praat asof ’n oorwinning reeds gewaarborg is. Ander probeer kiesers oortuig dat jy “vir ons moet stem” omdat dit glo die enigste manier is waarop daar gewen kan word.
Ek glo nie ons inwoners is so maklik om te manipuleer nie.
En meer belangrik: wat gebeur die dag ná die verkiesing?
Die mense wat vandag mekaar aanval, sal môre dalk saam in dieselfde raadsaal sit. Hulle sal moet saamwerk oor begrotings, dienslewering, infrastruktuur, veiligheid, ontwikkeling en die toekoms van ons gemeenskap.
Daarom weier ek om my veldtog op persoonlike aanvalle te bou.
Dit beteken nie dat ons probleme moet ignoreer nie. Inteendeel. Ek glo sterk daarin om swak prestasie, swak stelsels en swak besluite uit te wys. Maar daar is ’n groot verskil tussen verantwoording eis en iemand persoonlik afbreek.
Ons moet onthou: ons verkies nie vyande nie. Ons verkies verteenwoordigers.
Die nuwe raad sal waarskynlik ’n raad wees waarin samewerking noodsaaklik gaan wees. Geen kandidaat behoort bloot te aanvaar dat sy party of sy groep alleen gaan regeer nie. Ons gemeenskap kan eenvoudig nie bekostig dat politieke ego’s belangriker word as die probleme wat ons elke dag ervaar nie.
Want na 4 November gaan die slaggate steeds daar wees.
Die straatligte wat nie werk nie, gaan steeds nie werk nie.
Die water-, riool- en stormwaterprobleme gaan nie verdwyn omdat ’n verkiesingsplakkaat verwyder is nie.
Ons kinders se toekoms gaan steeds van die besluite van plaaslike regering afhanklik wees.
Dít is die werklikheid waarvoor ons moet stem.
Daarom bly my benadering eenvoudig: **Kop vir die plaaslike, hart vir die nasionale.** Jou plaaslike stem behoort te gaan oor die persoon wat jou gemeenskap ken, bereikbaar is, prestasie kan toon en bereid is om met ander saam te werk.
Nie oor wie die hardste skree nie.
Nie oor wie die meeste mense aanval nie.
Nie oor wie jou probeer bangmaak nie.
En ook nie oor wie vir jou sê dat jy moet stem soos hulle sê nie.
Kyk eerder na wat iemand reeds gedoen het. Vra of hulle bereikbaar is. Vra of hulle luister. Vra of hulle probleme opvolg. Vra of hulle bereid is om met mense saam te werk wat dalk politieke teenstanders is.
Dit is die “Trifecta” waarop ek hierdie veldtog gebou het:
“Living here. Serving here. Fighting here.”
Ek leef hier. Ek dien hier. En ek veg hier — nie teen mense nie, maar vir ons gemeenskap.
Julle probleme is my probleme, is ONS probleme.
Ons hoef nie ná die verkiesing in ’n gemeenskap wakker te word wat verdeeld, verbitterd en vol politieke vyande is nie. Ons kan verskil sonder om mekaar te verag. Ons kan sterk standpunte hê sonder om brûe af te brand.
Respek wen altyd op die ou einde.
Ons is beter as persoonlike aanvalle, politieke arrogansie en leë retoriek.
Wanneer jy jou stem uitbring, vra jouself eenvoudig:
Wie sal my belange die beste dien — en steeds môre bereid wees om saam met ander te werk?
Gebruik jou kop.
Stem met oortuiging.
Stem vir die toekoms wat ons almal ná die verkiesing saam sal moet leef.
Dink. Vergelyk. Stem vry.
← Back to Blog