Wiskunde is nie die probleem nie!

Wiskunde is nie die probleem nie!
DIE PROBLEEM IS NIE DIE SOMME NIE
Ek het my as onafhanklike kandidaat vir Wyk 18 beskikbaar gestel met ’n vaste verbintenis tot integriteit, eerlikheid en respek, en sonder om deel te neem aan persoonlike aanvalle of moddergooiery. Wanneer misleidende argumente egter gebruik word om kiesers bang te maak of hul keuses te probeer beperk, glo ek dit is nodig om die feite kalm, eerlik en duidelik uiteen te sit.
Elke verkiesing hoor ons dieselfde ou argument:
“Jy gaan die stem verdeel.”
Dit is nou weer dieselfde storie as in 2021—vrees, waarskuwings en mense wat probeer voorskryf vir wie ander moet stem.
Maar kom ons wees eerlik: in ’n veelparty-demokrasie ding elke party en elke kandidaat om dieselfde kiesers mee. Die DA, VF Plus, ANC, EFF, MK, ACDP, AULA,ActionSA, Batho Movement en onafhanklike kandidate (en al die ander) “verdeel” almal tegnies iemand anders se moontlike stemme.
Dit is nie ’n fout in die stelsel nie.
DIT IS DIE STELSEL.
Die wiskunde is dus nie die probleem nie. Die probleem ontstaan wanneer mense die reëls aanvaar terwyl dit hulle pas, maar skielik kla wanneer daar werklike mededinging is.
En as die beginsel werklik is dat ’n swakker kandidaat moet terugstaan om sogenaamde stemverdeling te voorkom, waarom moet dit altyd die ander kandidaat wees?
Indien ’n party in die vorige verkiesing net die derde grootste steun in Wyk 18 gehad het, waarom staan húlle dan nie terug vir ’n sterker kandidaat nie?
Ek sê nie enige party moet terugstaan nie.
Die punt is juis dat niemand die reg het om te besluit wie mag staan, wie moet terugstaan of aan wie inwoners hul stem moet gee nie.
Dit is ’n verkiesing, nie ’n kroning nie.
Om mense te vertel vir wie hulle “moet” stem, en hulle bang te maak wanneer hulle ’n ander keuse oorweeg, begin gevaarlik klink soos die tipe politiek waar een stem toegelaat word en almal veronderstel is om net ja te knik.
Ons leef nie onder Poetin nie!
Laat elke kandidaat staan. Laat elke party sy rekord verdedig. Laat kiesers kyk na prestasie, integriteit, beskikbaarheid en optrede tussen verkiesings.
En laat die kieser besluit.
Jou stem behoort nie aan ’n party nie. Jou stem behoort aan jou.
Moenie uit vrees stem nie.
Moenie onder druk stem nie.
Moenie stem omdat iemand sê jy “moet” nie.
DAAG OP. BESLUIT. STEM.
Peter Muller
Onafhanklike kandidaat vir Wyksraadslid
Wyk 18, Dihlabeng

← Back to Blog